Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - SONDAG 15 MEI 2011

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Let asseblief op: Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.
U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

In die nuus vandag:

158 KANDIDATE SKRYF HIERDIE WEEK DIE RAE

NUWE 40 m BAKEN OM NAVIS-TOESTANDE TE TOETS

ARRISAT SAL LAAT IN JULIE LANSEER WORD

SLUIT IN PORT ELIZABETH BY ONS AAN BY DIE RTA OP SATERDAG 4 JUNIE.

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

158 KANDIDATE SKRYF HIERDIE WEEK DIE RAE

158 Kandidate sal Donderdag hierdie week in 16 verskillende sentra oor die land die Radioamateureksamen aflê. Die beste wense van die SARL aan al die kandidate en ook dank aan al die klubs wat betrokke was met die aanbied van klasse en leiding aan kandidate.

Die eksamen begin om 19:00 en eindig om 22:00. Kandidate word aanbeveel om voor die aanvangstyd by die eksamenlokale op te daag, hulle ID’s te toon en hulle eksamennommers te kontroleer. Die eksamennommers is te vinde by www.sarl.org.za. Kandidate sonder ID’s sal nie tot die eksamen toegelaat word nie.

Die raad van die eksaminator en moderators aan kandidate is: “lees elke vraag verskeie kere voordat dit beantwoord word, daar is genoeg tyd om al die vrae te beantwoord.”

NUWE 40 m BAKEN OM NAVIS-TOESTANDE TE TOETS

Op 7 Mei 2011 is ’n nuwe baken in Bloemfontein aangeskakel om NAVIS-toestande vanaf die sentrale Vrystaat te toets. Die baken werk op 7 027 kHz met 50 mW uitset in 'n dipoolantenna wat 6 meter bo die grond opgestel is.

Die doel van die nuwe baken is om voortplantingstoestande vanaf die middel van Suid-Afrika te toets. Die antenna wat gebruik word is opgestel vir NAVIS-toestande. NAVIS is die akroniem vir "Near Vertical Incidence Skywave". Dit is voortplantingsmetode deur radiogolwe wat bruikbare seine, gewoonlik vanaf 50 tot 650 km verskaf, dus tussen die afstande gewoonlik gedek deur grondgolwe en luggolwe respektiewelik. Die radiogolwe beweeg opwaarts in die ionosfeer in, vanwaar hulle teruggekaats word en kan in 'n sirkelvormige gebied tot 650 km vanaf die sender ontvang word. Indien die frekwensie te hoog is, gebeur terugkaatsing nie en indien te laag verminder absorpsie die seinsterkte. Die bruikbare frekwensies vir NAVIS lê tussen 1,8 en 15 MHz.

Die baken send die volgende boodskap in 'n nie-eindige lus in GG teen 5 wpm: "VVV DE ZS4BOT/B KG30BV". Die bakenposisie is KG30BV.

Die baken en sagteware is deur Jan, ZS4JAN, ontwerp en gebou. Verslae kan gestuur word aan wirelesscomms@vodamail.co.za.

ARRISAT SAL LAAT IN JULIE LANSEER WORD

Die ruimtevaarders in die Internasionale Ruimtestasie het berig dat hulle die satelliet geaktiveer het en bevestig dat hulle die sein op die amateurradio aan boord van die IRS ontvang het. Aangesien die battery amper ontlaai was van sy oorspronklike lading, het hulle die satelliet afgeskakel nadat dit vir 6 uur in gebruik was, om oorontlading te vermy. Die battery is uit die satelliet verwyder en afsonderlik volgens normale hanteringsprosedures gebêre.

RSC-Energia berig dat hul plan is om die battery sowat drie weke voor die ontplooiing te herlaai. Dit sal die ruimtevaarders kans gee om die batterye weer te installeer en die satelliet te toets om seker te maak dat dit reg funksioneer. Die ontplooiing word vir laat Julie vanjaar beplan.

Vind meer uit oor ARRISAT en hoe dit die lewens van jongmense by die SA AMSAT Ruimtesimposium, wat volgende Saterdag 21 Mei gehou word, kan verryk. Kry besonderhede en 'n registrasievorm op www.amsatsa.org.za.

SLUIT IN PORT ELIZABETH BY DIE RTA OP SATERDAG 4 JUNIE BY ONS AAN.

Die volgende Radiotegnologie-in-Aksie-Simposium sal in samewerking met PEARS in Port Elizabeth by die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit gehou word. Dit kos R50 vir SARL-lede en R70 vir nie-lede. Die fooi sluit verversings en 'n ligte middagete asook inskrywings vir gelukstrekkings, wat op verskeie tye gedurende die simposium gehou sal word, in.

U kan aanlyn bespreek of by die deur betaal. Besoek www.sarl.org.za en gaan na RTA op die linkerhandse lys vir voorafbespreking en 'n volle program.

NOMINASIES VIR MSN SE RADIOAMATEUR VAN DIE JAAR TOEKENNINGS SLUIT GOU

U het nog 'n paar dae om iemand te nomineer vir die Nokia Siemens Netwerke se Radioamateur van die Jaar Toekennings. Daar is drie kategorieë:

Garth Milne Tegniese Innovasietoekenning

Die toekenning word gemaak vir die ondersteuning, ontwikkeling en toepassing van tegniese innovering in amateurradio in Suid-Afrika. Die ontvanger sal 'n persoon wees wat die gebruik van tegnologie in amateurradio op klubvlak, nasionaal by skole of tersiêre opvoedkundige inrigtings bevorder het.

NSN Radioamateur van die Jaar.

Die toekenning word gemaak vir die ondersteuning en ontwikkeling van die amateurradiodienste in Suid-Afrika en nie vir individuele prestasies soos DXCC en ander operasionele toekennings of kompetisies nie. Die ontvanger sal 'n persoon wees wat van sy tyd en kundigheid gegee het om Amateurradio in Suid-Afrika te bevorder.

NSN amateurradio gemeenskapsdienstoekenning

Jaarliks erken die Suid-Afrikaanse Amateurradio Ontwikkelingstrust 'n amateur of groep radioamateurs vir diens aan die gemeenskap.

Gemeenskapsdiens kan beteken hulp aan 'n gestremde amateur, kommunikasie gedurende sportgeleenthede of 'n rampsituasie soos 'n padongeluk of natuurlike rampe soos vloede, veldbrande of aardbewing. Nominasies word ingewag vir indiwidue of 'n groep mense soos 'n radioklub of assosiasie.

Besonderhede is beskikbaar op www.amateurradio.org.za of vra 'n brosjure aan vanaf saardt@intekom.co.za.

IARU 2011 KONFERENSIE IN AUGUSTUS ONTVANG 'N STYWE DONASIE VANAF TWEE ZS-KLUBS

Na afloop van verskeie geldinsamelingsprojekte die afgelope jaar het die Vaaldriehoek- en die Sasolburgradioklub besluit om R5 000 te skenk aan die SARL om te gebruik met die komende IARU 2011-kongres wat in Augustus by Sun City gaan plaasvind.

Die organisasiekomitee, wat uit lede van beide klubs bestaan het, bedank elkeen vir hulle ondersteuning aan die afgelope 2011 Nasionale radiokonvensie wat hulle in die Vaaldriehoek aangebied het.

NUWE 4 m METEOORSPREIDINGREKORD

Om 04:18 UTC op 23 April het ZS1AGF en ZS6NK ’n QSO op 70,20 MHz oor ’n distansie van 1 527 KM gevoer, dus ’n verbetering van 179 km oor die vorige rekord van 1 348 km.

ZS1AGF het ’n Icom 746 gebruik met ’n Spectrum frekwensieomsetter en ’n 5 element YAGI. ZS6NK het ’n Yaesu FT847 en ’n 9 element LFA YAGI vir die kontak gebruik. Veels geluk aan julle!

KOMPETISIENUUS

Voorlopige resultate (logs wat gepos is, is uitgesluit) vir die ZS3-naelloop is as volg:

1ste ZS3SVD, Sian van Deventer 115 punte
2de ZS6APT, Pam Momberg 60 punte
3de ZS1SKR, beman deur ZS2CX 59 punte

105 stasies het deelgeneem op 40 m foon en GG, slegs 11 logs en 2 kontrolelogs is ontvang.

ZS4SRK NEEM DIE EERSTE BEEN VAN DIE 80 METER QSO-PARTYTJIE.

Die drie uur lange kompetisie is op 7 April gehou met die doel om belangstelling in aktiwiteit op die 80 m-band te bevorder. Dit is slegs ’n foonkompetisie. Die Sasolburg Amateurradioklub het die kompetisie met 550 punte gewen. Hul klubstasie, ZS4RK, is deur ZS4MP bedryf. Tweede plek is gedeel tussen ZS6XT en ZS1WC, albei met 510 punte. 57 radioamateurs het deelgeneem maar slegs 13 logs is ingedien. Die tweede been sal op 6 Oktober 2011 gehou word.

Die ZS4 Naelloop sal vanaf 14:00 tot 15:00 UTC op Sondag 22 Mei op die lug wees en dit is 'n foon- en GG-kompetisie in die 40 meterband. Hierdie is 'n lekker geleentheid om kontakte tussen radioamateurs in die Vrystaat en radioamateurs in Suider-Afrika te bevorder.

Op Woensdag 25 Mei word die derde SARL 80 m Klubkompetisie gehou en dit sal 'n GG-kompetisie wees. Die kompetisie begin om 17:30 UTC en eindig om 18:30 UTC.

Lees meer op bladsy 20 en 53 van die 2011 SARL-kompetisiehandboek.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat sonaktiwiteit op lae vlakke is. Tans is daar nie 'n kans vir ernstige sonfakkels nie. Sonvlekke 1 208 en 1 210 is die hoofdis op die son se sigbare oppervlak. 'n Klein nuwe sonvlek probeer om aan die Suid-Westelike kant van die son te vorm. Vir diegene wat hulle eie frekwensies voorspel, is die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week sowat 35.

15 m is die beste keuse vir DX gevolg deur 20 m.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

21 Mei - SA AMSAT simposium by SARL NARS te Radiokop.
18-22 Mei - Volg Dayton Hamvention op W5KUB.com.
22 Mei - ZS4 naelloop vanaf 14:00 UTC tot 15:00 UTC foon en GG op 40 m
25 Mei – Sluitingsdatum vir nominasies vir NSN-toekennings, besoek www.amateurradio.org.za.
25 Mei - SARL 80 m klubkompetisie 17:30 UTC tot 18:30 UTC
4 Junie - RTA in Port Elizabeth by Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit
18 Junie - kursus in programmering in Windows in Gauteng. Bespreek by www.sarl.org.za.

SARLNUUS nooi klubs en individue om nuusbrokkies wat radioamateurs en kortgolfluisteraars sal geniet, in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio VANDAG wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 750 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'ARMI' en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 18:30 SAT op 3 230 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur Gustav, ZS6BWN.

Dankie dat u geluister het. 73.
/EX


Ten einde u inskrywing op hierdie subskripsielys te verander of dit daarvan te verwyder, , gaan na www.sarl.org.za/members/admin/maildat.asp


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003